Jy sit op ‘n stomp vol stories. Die woud vou dig en swaar om jou. Soet, klam lug, vol rapsblomme en dennenaalde bedwelm jou. Die stilte is alles oorheersend, maar verseg om te roer.
Die volgende oomblik sluk die gewemel jou in op ‘n besige straathoek. Jy proe-proe aan die skuim op jou weissbier. Karre, toeters, sirenes, spelende kinders, honde, bulderende protesteerders, gesellige saamsitters, nuuskierige mensekykers, drentelaars na erens of nerens – – net toe jy jou begin verbeel jy is terug in Kaapstad, breek die weemoedige vioolklanke deur die chaos. Wild en warm dans dit en laat jou hart se murg smelt. Dit sing als wat die mense om jou nie gese kry nie.

Dan is jy skielik weer kilometers ver op jou huis se dak onder die gul Afrikason en as jy afklim, kom maak die jasmyn by die voordeur jou neus gelukkig.
Of jy eet mond-water pannekoeke en bredierige sop voor ‘n vrolik knetterende kaggelvuur terwyl dit buite sous of jy koop vars vis by Houtbaai. Seemeeue gesels om jou en die heelmaak seelug verwelkom jou.
Of dalk sit jy in die kar en wag terwyl die so bekende wonderlike warboel om jou woed.
Party skater of skel. Ander spoeg mekaar met pittige segoed. Goeters val en raas. Remme skreeu. Mense groet en omhels mekaar soos lank verlore vriende. Aggressie, woede, warmte en hartlikheid maak voortdurend beurte om die lug te laat vibreer.
Uiteindelik dommel jy salig weg in ‘n warm bad. Jou gedagtes gaan oop. Die musiek in jou kop kom los en die note stroom uit!
‘n Behoorlike skoot Romantiek, Jazz, Blues, Balkan klanke – Kaapstad, Hubenrode, Berlyn of waar ookal met ‘n klomp verassings en regop-sit oomblikke tussenin…? Kom besluit maar self waarheen jy jou wil wegdroom terwyl Sigrun Paschke haar oorspronklike musiek met jou deel. Kom luister hoe vingers en ivoor een word!