Sy sien sonder oë

Publikasiedatum: By, 24 Julie 2010

Die blinde musikant Ster en haar swaer Stef Bos het pas die eerste van ‘n reeks “donkerkonserte” gehou met haar komposisies en sy gedigte. WILLEMIEN BRüMMER het met hulle gepraat oor of jy in die donker kan sien.

Hy lei haar aan die hand na die groot swart vleuelklavier op die verhoog van die Stellenbosse Klein Libertasteater. Sy stamp liggies teen die instrument voordat sy glimlaggend gaan sit – ’n tenger blonde vrou met ’n donkerbril en sneeuwit arms. Van agter die verhoog begin hy lees: Die hemel bestorm en kansloos agter die wolke verdwyn. Die onvoorwaardelike oorgawe teken met sagte lyne . . .
Sy antwoord met klanke wat saggies vroetel en dan soos wedvlugduiwe oor die klawerbord vlieg. Die verhoogligte word ’n skemering totdat jy net die wit van haar gesig, arms en hare kan sien.

En toe is dit nag, en al wat oor is, is geluid – die klavier word slegs deur klank omlyn. Iemand hoes, ’n kind begin huil, maar die note oorrompel alles.
Iewers fluister ’n vrou in die gehoor: “Vanaand is óns gestremd. Sy’s die original.”
Ek wonder of dít die antwoord is op wat Sigrun Paschke, ofte wel Ster (36), sien: my blinde vriendin wat sonder oë en met ’n gesplete verhemelte en lip gebore is.
Tevore het ek haar al dikwels daaroor gevra: Wat bedoel sy as sy kordaat verklaar iemand is mooi; hoe laat rank sy haar begrip om iets so oneindig uitgestrek soos die see?
Eers nóú besef ek klank word wel vir haar beeld. Die beelde in ons koppe is net twee verskillende tale.
In haar ouers se huis in ’n systraatjie naby Kloofstraat in Kaapstad probeer sy sowat ’n week voor haar eerste donkerkonsert aan my verduidelik hoe ’n blinde sien. Op die agtergrond fluit en lag en koggel die papegaai Hägar soos ’n besetene. Buite blaf haar gidshond, Frika, terwyl die vyfuurverkeer opdam.
Teen die mure is haar kunstenaar-suster, Varenka, se mosaïekagtige skilderye wat realisme en abstraksie vervleg, en op die vloere ryk Oosterse tapyte. Ster praat in ’n skerp, hoë stem en met haar gesig en lyf direk na my gedraai:
“As ek droom, dan droom ek visueel. Ek droom in kleur – van mense en goeters. Hoe beter ek mense ken, hoe makliker is dit om hulle te visualiseer of voor te stel. Soms is jy verkeerd, maar jy kan dikwels aan die asemhaling en aan mense se manier van stap hoor hoe hulle lyk. Jy tel mos ’n gevoel op van hoe lank en hoe groot iemand is. Jy kan so baie leer net deur te luister en waar te neem.”
En ja, sê sy, klank hét vir haar kleur, en kleur ’n soort energie.
“C is byvoorbeeld rooi, E sal groen wees. Ek kry die idee groen lyk rustig, en ook soms blou – maar ek kan nie vir jou beskryf hoe dit lyk nie, en jy weet nie of jy dieselfde sien as die volgende ou nie.”
In die persverklaring vir haar konsert, Ster in die donker, skryf sy van klanke wat jou kan bekruip of deurboor, bedwelm en omvou. “Klanke het hope plek vir prentjies wat jy kan frommel en skommel soos jy lus kry. Klanke kan jou aan enigiets laat ruik, voel of proe.”
Jy knik dus wanneer sy sê sy het dit gekies om sonder oë te wees. “Dis hoe dit móés gewees het,” sê sy.
“As klein kindertjies vra hoekom ek nie oë het nie, vertel ek altyd vir hulle toe Liewe Jesus my gemaak het, het Hy vir my vingers gegee wat kan klavier speel en kan musiek maak. En toe het Hy só hard gewerk aan die hande dat Hy vergeet het om die oë in te sit.”
En dalk, net dalk, het Hy só hard gewerk aan haar windmeulbestormende onafhanklikheid dat Hy vergeet het Sy ander skepsels kry hulself soms jammer. Nie Ster nie; sy storm in waar selfs engele fladder.
Daarom wil sy amper nie eens praat oor die sowat 30 operasies wat sy deur die loop van haar lewe moes kry nie. Sy mompel bloot dat dit “meestal was om die buis tussen my ore, neus en keel te herstel”.
Haar stem is beslis: “Dis boring wat jy nou vra! Ek is bederf ná elke operasie. Ek het net roomys en sjokolade gekry.”
Nog minder wil sy praat oor haar myasthenia gravis, ’n outo-immuunsiekte wat letterlik vertaal “ernstige spierswakte” beteken. Onwillig verduidelik sy: “Die verbinding tussen die senuwee en die spiere word aangetas – en dit kan al jou spiere raak, al jou funksies. Jy loop moeiliker, jy praat moeiliker, jy sluk moeiliker, jy kan nie ordentlik oefen nie en jy raak gouer moeg – al jou spiere raak swakker.”

In haar tweede jaar op universiteit het sy agterkom daar is ’n fout toe haar hande in ’n klaviereksamen te swak was om te beweeg.
Sy is van dokter na dokter, en eers in haar vierde jaar is dit by haar gediagnoseer.
Haar pille het al hoe minder gewerk – totdat sy ’n paar jaar gelede gehoor het dat bysteke blykbaar vir die behandeling van outo-immuun-toestande gebruik word. Deesdae het die Paschkes se huis ’n byekorf op die dak, en Ster se ma, Amelia, steek haar naasoudste kind twee maal per week liefderik met die gif van ses bye.
“Ek drink deesdae die minimum medikasie omdat ek die bysteke kry. Dit het dramaties gehelp. Daar’s nie mediese bewyse vir die behandeling nie, maar die meeste van my simptome het verdwyn. Dis nie nou meer deel van wie ek is nie.”
Is sy bang mense sal dink sy kla?
Sy knik heftig. “As jy jou gebreke onderspeel en konsentreer op wat jy wél kan doen, gaan jy baie meer regkry. Ek’s ook net geïrriteerd met die gestremde mense wat so ’n moerse chip op hul skouer het. Die wêreld skuld jou niks!”
Ek onthou hoe sy ’n keer saam met my Kaap toe gery het, op pad terug van Ladismith in die Klein-Karoo. Ek noem nie die dorpe se name waardeur ons ry nie, want ek weet sy sien met ander sintuie. Dis laatsomer, en in die hoofstraat heers ’n bedrukkende Sondagmiddag-atmosfeer. Ster is stil.
Ek sit my flikkerlig aan om by ’n kafee te stop, en sy verstyf. “Nie op Worcester nie,” sê sy kortaf. “Kan ons asseblief eers ná die tonnel stop?”
Eers daarna het ek haar liedjie “Vergeet hulle agter die berge” gelees oor haar ervaring vroeër by die Skool vir Blindes op Worcester: Vergeet hulle agter die berge, versteek hulle in die Hexriviervallei. Hulle is nie soos ons nie! Skep tuislande vir spesiale onderrig . . .
Sy haal diep asem.
“Vir sommige mense is so ’n spesiale skool-opset reg, hulle voel meer beskerm. Maar vir mense wat soos ek van kleins af met die idee grootgemaak is om eerder ja te sê as nee; om vrae te vra en nie die antwoord ‘Omdat ek so sê’ ooit te aanvaar nie . . . Vir so iemand is die opset nie geskik nie.”
Sy praat vinniger: “Ek het die liedjie geskryf want dis erger vervreemding en misvorming van kinders as tydens apartheid. Dis die soort ding wat jy nooit weer kan regmaak nie, want daai kinders is vir ewig geïsoleerd.”
Sy wys na die kniehoogte-teetafeltjie met die gebreekte glasblad voor haar. “Daai kinders se mensweesplafonne is so hoog soos hierdie gebreekte tafel. Myne was the sky’s the limit. Ek het nooit regtig aangepas in Worcester nie, want ek wou nie. Ek het gevoel ek moet in die gewone wêreld funksioneer.”
Daarom het sy in standerd agt (graad tien) na die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch gegaan – en destyds die eerste blinde kind in die Wes-Kaap geword wat in die hoofstroom-onderwys opgeneem is.
“In daai tyd was dit nog nie beleid nie, hoofstroom was ’n rariteit. My ma en pa het ’n helse stryd met die departement gehad om dit reg te kry – ure se gesprekke en oorreding. Uiteindelik het ons al die onderwysers saam in die diep kant ingegooi, maar my ma-hulle was fabulous en die onderwysers ook.”
Vriende en familie het haar gehelp lees aan handboeke wat nie in braille beskikbaar was nie, en sy het al haar klasse op band opgeneem sodat sy dit later tuis met haar raserige libret kon transkribeer. Sy moes ook die gewone musieknotasie leer, al kon sy dit nie sien of skryf nie.
As daar nie braille-bladmusiek was nie, moes ’n dosent of assistent die musiek vir haar speel sodat sy dit kon opneem en memoriseer. Akkoord vir akkoord het sy die note geleer net deur te luister – sonder die “absurde wiskundige formuletjies” wat siende mense in staat stel “om musiek te hoor”.
Want musiek, sê sy, was nog altyd deel van haar wêreld. Nog voordat sy kon speel, het sy gevoel of sy tuisgekom het. “Ek was so drie toe ek begin tokkel het op ’n Yamaha-orreltjie; en toe het my ma eventually vir my ’n klavier gekoop. Die klank was net ongelooflik! Die klavier maak mos ’n hele orkes.”
Ná haar BMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch het sy haar brood verdien met onder meer toonsettings, musikale verwerkings en musieklesse. Sy het in ensembles gespeel, ander musikante begelei, in hotelle en restaurante getokkel, aan musiekteater meegedoen.
Eers relatief onlangs het sy haar eie storie met solowerk begin vertel en aan haar eie instrumentale komposisies begin skaaf soos dié in Ster in die donker. En toe ontmoet Ster, wie se suster Varenka verlede jaar met die Laelandse sanger en skrywer Stef Bos getroud is, haar toekomstige swaer en ontdek dié twee mekaar deur klank en musiek.

In die restaurant Van Hunks in Stef se geliefde Kloofstraat onthou hy hoe Ster die eerste keer op sy Steinway in sy 400 jaar oue plaasstal op die grens van Nederland en België gespeel het. Sy het op die vleuelklavier losgetrek, en hy het agter die klankbord van dié stal-cum- klank¬atel¬jee met sy dik balke en mure plaasgeneem.
Hy praat in sy kenmerkende mengsel van Afrikaans en Nederlands.
“Sy begin speel, en opeens gaan ek reg in my kop in – en dis altyd ’n goeie teken – dat die musiek byna een word van alles wat jy om jou heen sien of voel. Ná tien minute raak ek so meegevoer en ek dink dis ongelooflik: Musiek kan jou irriteer, dit kan jou opgewonde maak, maar soms is die mooiste musiek dié wat jou kan laat vergeet selfs dat jy daar is.”
Hy kyk teer na sy skoonsuster, vertel hoe hulle al hoe meer van haar eie instrumentale komposisies opgeneem het. Tydens dié opnames het hulle die ingewing gekry om die musiek af te wissel met kort teksvoorlesings deur Stef – woorde wat “diensbaar is aan die musiek”, soos hy dit noem.
Langsamerhand het hy besef haar komposisies is gemaak “met ’n ander soort visualiteit as wat ons ken”.
“Ek het gedink dit sal interessant wees as jy woorde het, en musiek, en toe dink ek die mees intense manier om dit te beleef, is deur die licht weg te haal. Bring die mense terug by hulleself, want jy is nergens so dicht by jouself as in die donker wat hoop, liefde en angs betref nie.”
As regisseur van Ster in die donker wil hy die gehoor meevoer van iets wat hulle dink hulle ken “na ’n gebied waar daar nie meer ’n padkaart is nie”.
Hy glimlag trots. “Ek en Varenka het pas ’n babatjie gekry, en dis ’n ongelooflike ervaring om te sien hoe hy nog g’n enkele manier het om mense bevallig te wees nie. As hy na my kyk, is dit asof hy dwarsdeur my kyk – daar’s ’n soort totale oopheid daarin. Ek dink dat jy in so ’n vertoning dit kan doen. Sy moet ons eintlik meeneem in haar wêreld.”
Maar wat gebeur wanneer jy twee kunstenaars bymekaarbring en die een “skryf met sy oë” en die ander “praat met haar hande”?
Hy lag. “Iemand in Groningen het eenmaal gesê dit is ’n soort gestremdheid vir my – regtig. Daar bestaan ’n woord daarvoor, maar dis eintlik asof ek by gebrek aan matematiese insig my oë gebruik om ’n soort logiese indeling te maak van die wêreld. Die bottom line wat ek by haar leer, is goeie melodie. Ek is so gewoond aan die Protestantse ding van die woord wat vlees geword het dat dit vir my lekker is om alleen die musiek te hoor.”
Hy borrel voort: “My ervaring met klassieke musiek of met goeie jazz is dat wanneer dit nie oor die ego gaan nie, maar oor egte spiritualiteit, kan dit my laat huil. Dit kan my regtig terugbring na myself.”
In die donker kan jy dit soveel te meer doen. Hy vertel van die ontslape kitaarspeler Tony Boast van Engeland wat met een noot “jou hare kon laat orent staan”.
“Ons het baie geselsies gehad onderweg snags as ons getoer het.” Hy maak vir Tony na: “We have to make viral music! Most of the music is bacterial!”
Een nag sê Tony vir Stef: “You know it would be wonderful if we could make a concert and everybody falls asleep. That’s the ultimate thing, man. You can only fall asleep in a place where you surrender.”
Hy dink na. “Dis wat ek dink met deze vertoning. As dit donker raak, gaan jou oë in ’n soort slaapstand. Miskien wanneer die licht afgaan, dan val die helfte van die saal aan die slaap, en dan het Tony in die hemel tog gelyk.”
Ster klink gemaak geïrriteerd. “Dan moet hulle nou maar ietsie betaal vir hul lekker nag se slaap!”
Stef lag. “Sy kom uit ’n wilde familie – mense wat nogal gepassioneerd is. As daar dan ’n kans is dat mense tydens ’n rustige komposisie wegdommel, dan gaan hulle daarna bliksem en donner, ’n Richard Wagner-agtige ding in hul ore kry waardeur hulle opeens styf in hul stoele sal sit.”
Ster kyk na Stef asof sy hom sonder oë kan sien, maar hy stu voort: “Alle blindes word bang gemaak terwyl hulle op skool is, en dit is die bef—heid van deze vertoning – dat jy gaan kennis maak met ’n persoonlikheid, nie met ’n blinde nie, maar met ’n vrou wat ’n bietjie van haar kop af is. Sy’s ’n blinde wat nie bang is nie.”
Buite word dit skemer – valavond, soos wat Stef dit in Vlaandere noem. Hy knik. “Aan die einde van die dag gaan deze vertoning oor wie sy is.”

Die volgende aanbieding van Ster in die donker is op 5 Augustus in De Malle Meulteater op Philadelphia. Skakel 0 072 668 7901 vir meer inligting. Daarna is dit op 11 Augustus in die Bôrdienghuisteater op Wellington (0 072 115 2913) te sien en op 13 Augustus in die Ou Meulteater in die Paarl (0 083 654 0056).

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s