Blinde pianis se klank het ’n siel

2010-07-10 Artikelopsies Deel Kry Rapport op Die Belgiese sanger Stef Bos en die blinde pianis Ster Paschke hou saam konserte waarvan die enigste rekwisiete woorde, klank, en die donker is.

Marlene Malan

Foto: Jaco Marais

Haar musiek, verduidelik die sanger-skrywer Stef Bos, is ’n stroom water wat onkeerbaar see toe vloei. Sy poësie, daarmee saam, eilandjies vir verposing. En saam vorm dit In die Donker, Stef en Sigrun Paschke, oftewel Ster, se eksperiment met die mag van klank. Hul reeks “donkerkonserte”, wat binnekort in Stellenbosch afskop, is ’n ervaring van die wêreld waarin Ster se komposisies geskep is – in die donkerte van dié pianis se blindheid. Dis ’n wêreld waarin sy nooit op visuele effekte kan staatmaak nie. Net op haarself, en op die klank wat haar vingers en haar siel uit haar instrument optower. Daarom wil sy gehore uitdaag: “Ervaar wat ék sedert my geboorte ervaar – die nagdonker waarin jy jou eie beelde moet vorm. Verf jou eie prentjies op ’n doek van klank, soos ek.” Dié vertoning-in-die-donker is ’n eenheid van Ster se klaviermusiek, alles haar eie komposisies, afgewissel met Stef se voorlesings van sy gedigte. “Ek het my eie manier van sien deur klank ontwikkel – daarom dat ek gehore vra om tydens In die Donker nét klank te ervaar. Jou ervaring en interpretasie van ons vertoning is dus joune alleen,” sê sy.

Ster, wie se suster, Varenka, twee jaar gelede met Stef getroud is, vertel sy en haar swaer het mekaar in klank ontdek en leer verstaan.

Stef het altyd geweet Ster is die Paschkes se musikant.

“Maar eendag, terwyl sy sit en speel, luister ek fyner. My mond hang oop… ‘Wat gaan hier aan?’ dink ek. Ek het op die grond gaan lê en besef – dié is ongelooflike musiek. Dis klank met ’n siel.

“Dis musiek van introspeksie. Net soos Ster sal jy in ons konserte jou eie manier van ‘sien’ moet ontwikkel. Ons enigste rekwisiete is woorde, klank – en die donker.”

En donker was nog altyd vir haar vanselfsprekend, sê Ster.

“Waarom moet ek bang wees net omdat my wêreld anders as joune lyk? Vir gehore?

“My ma het my van kleins af geleer dis orraait om teen goed vas te loop én te val. Solank ek net opstaan en aanloop.

“Ek het die wêreld anders as jy leer verstaan. Net soos ek stemme dalk anders as jy interpreteer. Ek luister om te weet of jy opreg is, of voorgee. Of om te weet of jy gelukkig is of hartseer.

“Ek weet wie sit agter ’n stem. Dis stemme wat maak dat ek mense dalk beter verstaan as wat hulle hulself verstaan. Soms sien ’n mens beter deur klank as met beelde.”

Blindheid is nie ’n gebrek nie, sê Ster. “Ek is blind; ek is ’n pianis. Jy kan sien en jy is ’n skrywer.”

Vandat sy kan onthou, het die klank van ’n klavier haar gefassineer.

“Dis so ’n lekker groot instrument. Ek moet my arms wyd uitstrek om al sy klanke vas te vang. Met die baie spasie wat ’n klavier bied, kan ek mal gaan met klank. Anders as ’n kitaar of ’n fluit.”

Ster, wat in 1973 in Lissabon gebore is, het B.Mus. aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer.

Dis egter eers die afgelope paar jaar dat sy besef het sy wil dit wat sy waarneem, in haar eie komposisies weergee – komposisies wat hul oorsprong in klassieke musiek het, maar ook in jazz en wêreldmusiek.

Haar verbintenis met Stef het haar na sy ateljee in België geneem, waar haar werk opgeneem is.

Dit was tydens dié opnames dat Stef en Ster die ingewing gekry het om ’n musiekkonsert van haar met sy poësie af te wissel.

Read full article>>

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s